Luidens berigte was 70 mense op die steierwerk met die bou van die toring besig toe dit onder hulle meegegee het. Twee werkers is beseer en een word nog vermis. Dit is onbekend hoeveel ander nog onder die puin van beton en verwronge staal vasgekeer is.

Die nasionale uitsaaier, CCTV, berig sowat 500 reddingswerkers, onder wie paramilitêre polisielede, het kaalhand in die puin gekrap op soek na oorlewendes.
Die koeltoring is deel van ’n steenkoolkragaanleg van R15,4 biljoen wat na raming in 2018 voltooi sou gewees het.
Boutragedies is ongelukkig algemene voorvalle in China. In Augustus het 21 mense gesterf toe ’n pyplyn by ’n ander steenkoolkragaanleg ontplof het. Op 12 Augustus 2015 het 173 mense gesterf in die grootste industriële ramp nóg in die land se geskiedenis. Dít toe ’n chemiese stoor in die stad Tianjin ontplof het. Nog 797 mense is in die ontploffing beseer.
Die voorman van die pakhuis is die doodsvonnis opgelê, maar dié straf is later opgeskort. Daar is bevind dat Joe Sjoewei, voorsitter van die logistieke firma Roeihai Internasionaal, hom omgekoop het om meer as 49 000 ton natriumsianied an ander hoogs giftige chemikalieë in die maatskappy se pakhuis te stoor.