Sy slagoffers was almal inwoners van die Tsoekoei Jamajoeri En-sentrum in Sagamihara. Die sentrum maak ook voorsiening vir mense met geestesteurings. Oematsoe was glo voorheen daar werksaam.
Op 19 Februarie het hy op Twitter gedeel hoe hy sy bedanking by die sentrum hanteer het en glo bygevoeg: “Ek kan in hegtenis geneem word.” Dit was ook glo in hierdie tyd dat hy pamflette uitgedeel het waarin staan dis ’n vermorsing om gestremdes aan die lewe te hou. Hy het na bewering ook aan van sy destydse kollegas gesê gestremdes het geen waarde nie en is nutteloos. Josjihide Soega, hoofsekretaris van die kabinet, het die voorval as hartverskeurend en skokkend bestempel, veral omdat soveel onskuldige mense slagoffers was.
Luidens berigte het Oematsoe vroeër vanjaar al gedreig om honderde gestremdes om die lewe te bring. Hy het genadedood bepleit en aangebied om self die moorde te pleeg. Ná daardie episode was hy twee weke lank in die hospitaal. Maandagoggend om 02:30 plaaslike tyd het hy na bewering toegang tot die sentrum gekry deur ’n venster te breek. Wat gevolg het, word nou beskou as een van die ergste massamoorde in dekades in Japan.

Oematsoe het 19 mense doodgesteek – nege vroue en 10 mans tussen die ouderdom van 18 en 70 jaar. Minstens 26 mense is in die aanval beseer, en 20 van hulle is in ’n ernstige toestand. Vier van hulle het nek-, bors- en armbeserings opgedoen, maar genadiglik is geen van hul slagare beskadig nie.

Daar word ook berig Oematsoe was tydens die voorval op sosiale media aktief. Hy het glo vreemde boodskappe op Twitter gedeel. Die laaste boodskap is omstreeks 2:50 plaaslike tyd gestuur en sê glo: “Mag daar vrede in die wêreld wees.”

Dit wil lyk of Oematsoe ná die aanval self agter die stuur van sy Honda ingeskuif en na die polisiestasie gery het. Hy het ’n sak met kombuismesse, ander bebloede messe en skerp voorwerpe by hom gehad. Hy het na bewering aan die polisie gesê alle gestremdes moet verdwyn en erken: “Ek het dit gedoen.”

Japan word beskou as een van die veiligste lande ter wêreld met baie streng vuurwapenwette. Feitlik niemand besit ’n vuurwapen nie.

Vorige massamoorde in Japan:

8 Junie 2008: ’n Man ry ’n besige sakegebied in Tokio met ’n vragmotor binne, klim uit sy voertuig en begin mense steek. Sewe sterf.

8 Junie 2001: ’n Man met geestesprobleme steek agt kinders by ’n laerskool in Osaka dood.

20 Maart 1995: Altesaam 13 mense sterf toe kultuslede sarin-gas in Tokio se moltreinstelsel vrylaat.

Bronne: asahi.com, bbc.com, theguardian.com, abc.net.au