Minstens 15 kinders is beseer toe ’n taxi en ’n ligte voertuig vanoggend in Randparkrif in ’n botsing betrokke was. Die ongeluk het by die kruising tussen Beyers Naudé en CR Swart plaasgevind.

Die voorkant van die taxi is heeltemal verwoes. Van die kinders het op die toneel rondgedwaal of verdwaas op die sypaadjie gesit.

Volgens ER24 se woordvoerder, Russel Meiring, het sowat 15 kinders – van vier tot ses jaar oud – geringe tot matige beserings opgedoen.

Die bestuurder van die motor is vasgekeer in haar voertuig wat weens die botsing op sy sy beland het.

Reddingsdienste moes meganiese toerusting inspan om haar uit die wrak te bevry.

Die oorsaak van die ongeluk word ondersoek.