’n Kop-teen-kop-botsing Saterdagoggend tussen ’n bakkie en ’n motor het die lewens van ses geëis.

Hendrik George Strauss, polisiekonstabel Ryan van Wyk en Marius Isaaks, asook drie onderwysers – Detleif van Wyk, Johannes Swartbooi en Joef Swarts van die MK Gertze Sekondêre skool in Rehoboth – het in die ongeluk op die Kalkrand-Rehoboth-pad gesterf. Albei voertuie het ná die botsing aan die brand geslaan. Sowat 7 km suid van Otjiwarongo het drie mense verkool nadat hul minibus teen ’n koeriertrok gebots het. Polisiewoordvorder Kauna Shikwambi het aangedui dat die ongeluk plaasgevind het toe een voertuig die ander wou verbysteek. Alfred Gaseb het Saterdagoggend sowat 8 km van Uis beheer oor sy voertuig verloor. Hy en sy familie was glo op pad na ’n begrafnis. Drie van die insittendes is in die Uis-kliniek opgeneem vir behandeling.

Thomas Kondjeni, bekend as een van die strydkinders wat by Brakwater kampeer het, het gesterf nadat ’n motor hom getref het toe hy die B1-hoofpad oorgesteek het.

Na wat berig word, het die bestuurder van die motor vir sy lewe gevrees toe ander lede van die strydkinders hom glo met klippe bestook het. Hy het weggejaag en hom aan die polisie gaan oorgee. Hy is in hegtenis geneem en word aangekla van strafbare manslag. Die man het ook nie ’n geldige bestuurslisensie nie.

’n Sewejarige meisie is deur ’n voertuig getref toe sy na haar ma aan die ander kant van die pad wou hardloop. Die bestuurder het ook eers weggejaag maar het hom weldra by die Wanaheda-polisiestasie oorgegee.

Markus Mark het ook gesterf nadat hy deur ’n voertuig naby die Noordoewer-grenspos getref is.

’n Eenjarige kleuter het by Ondangwa gesterf toe ’n motor in trurat bo-oor hom gery het. Hy het glo ten tyde van die voorval onder die voertuig gelê.

Bronne: namibiansun.com, republikein.com.na