Jolene (35), ’n eiendomsagent van Sotheby’s in die Kaapse spogbuurt Seepunt, se elektroniese toerusting is verlede week deur die polisie gevat om te ondersoek, het The Sunday Times berig. Sy hou egter nou saam met haar seuntjie in Engeland vakansie en gaan vir twee weke weg wees.

[caption id="attachment_138406" align="alignnone" width="600"]Jolene hou tans saam met haar seuntjie vakansie in Europa. Foto: Facebook Jolene hou tans saam met haar seuntjie vakansie in Europa. Foto: Facebook[/caption]

Leon van der Merwe, Jolene se prokureur het aan Netwerk24 bevestig die polisie het op sy kliënt se elektroniese toerusting beslag gelê. Die toerusting sluit ’n rekenaar, selfoon en ander toerusting waarop data gestoor kan word, in.

Volgens Leon is Jolene ’n staatsgetuie in die saak teen Jason. Hy het egter aan die aanlynnuusbron gesê die polisie hanteer haar nie as staatsgetuie nie. “Hulle kon ons net vir die goed gevra het. Ons sou dit oorhandig het,” het Leon gesê.

Hy kon nie Maandag vir verdere kommentaar bereik word nie.

Lt.kol. André Traut het aan Huisgenoot gesê dat die omstandighede van Susan se dood nog ondersoek word. “Die fyner aspekte daarvan kan nog nie bekend gemaak word nie.”

Jason, die uitvoerende hoof van Geffen International Realty Franchises, ’n afdeling van Sotheby’s, het Vrydag in die landdroshof in Stellenbosch verskyn.

Hy word aangekla van die moord op sy vrou, Susan Rohde. Sy is dood aangetref in die badkamer van haar hotelkamer. Susan was saam met Jason by Sotheby’s se jaarlikse konferensie by die Spier-wynlandgoed buite Stellenbosch. Hulle het glo ’n paar uur voor haar dood ’n uitval gehad.

Landdros Greg Jacobs het Vrydag gesê Jason kan terugkeer na sy huis in Johannesburg. Hy is steeds uit op borgtog en sy borgtogvoorwaardes bly dieselfde. Daar is wel bygevoeg dat hy nie enige misdaad mag pleeg nie.

Jason sal weer op 27 Januarie 2017 in die hof verskyn.