SY IS ’n vrou wat haar krieket ken, maar deesdae sal jy Minki van der Westhuizen eerder langs die rugbyveld aantref.

Nee, nie by Ellispark of Loftus Versfeld of Nuweland nie, maar eerder iewers in Engeland wanneer die manne van die Londense rugbyklub Saracens daar uitdraf.

Want dis waar Ernst Joubert rugby speel – soms as kaptein – en dis in sy sterk arms waar die blonde model en aanbieder van die TV-program Pasella ná haar egskeiding van die Stellenbosse sakeman Constant Visser weer geluk gevind het.

Soos Minki se vorige kêrels, die Proteakaptein Graeme Smith en die Afrikaanse sanger Pieter Smith, is hy uit eie reg bekend.

Hy het al naam gemaak op die rugbyveld toe hy vir die Lions gespeel het.

Al het die romanse eers die afgelope maand of wat tussen hom en Minki begin blom, reis  hulle duisende kilometers agter mekaar aan.

En dit lyk of dinge vinnig ernstig tussen hulle word, want sy het pas weer by hom in Engeland gekuier en in daardie tyd ’n geleentheid van Pasella misgeloop.

Daar is selfs gerugte dat sy sak en pak daar by hom gaan intrek, maar teenoor Huisgenoot het ’n woordvoerder van SABC2 bevestig dat sy aanbly as Pasellaaanbieder.

Maar wie is die man wat nou Minki se hart gesteel het?

Lees die volledige artikel in die Huisgenoot van 4 November 2010