Hoewel wyle Karabo Mokoena as ’n baie sterk vrou voorgekom het, was sy innerlik swak.

Dít was Dinsdag die skokkende woorde van Susan Shabangu, minister van vroue in die presidensie, op eNCA se program Checkpoint.

Die episode het gefokus op die 22-jarige se familie, wat rou oor haar dood nadat sy na bewering deur haar kêrel, Sandile Mantsoe, vermoor is.

“Sy was swak en daarom het sy die slagoffer van mishandeling geword. Terwyl sy haar situasie probeer hanteer het deur dit met ander mishandelde vroue te deel, het sy self ’n slagoffer geword,” het Shabangu gesê.

 

Bathabile Dlamini, minister van maatskaplike ontwikkeling, was Vrydag een van die sprekers op Karabo se begrafnis en het in haar toespraak gesê: “Ons kinders word in ’n ander tyd as ons groot. Hulle is lief vir geld.

“Ons kinders is materialisties. Ons kinders kan nie sien wanneer hulle sielkundig en emosioneel mishandel word nie. As jou mishandelaar jou emosioneel mishandel, breek hulle jou. Jy’s klaar. Dit takel jou selfvertroue af.”

Waarskuwing Karabo se ma, Lolo, het in ’n eksklusiewe onderhoud met eNCA gesê sy het dikwels haar dogter gewaarsku haar kêrel gaan haar doodmaak. “Jy kan nie so aangaan nie. Dis nie liefde nie, dis nie ’n toksiese verhouding nie, ek weet nie eens wat om dit te noem nie,” het sy aan Karabo gesê.

Karabo het in Oktober verlede jaar met Sandile, ’n handelaar in buitelandse valuta, begin uitgaan.

Sy het eendag ’n besering aan haar voorkop gehad nadat haar kêrel haar met die kop gestamp het.

 

“Ek wou met hom daaroor praat, maar sy’t gesê nee, hierdie man is van sy kop af. Los hom, dis oukei.”

Sy het wel ’n klag aanhangig gemaak nadat haar ouers haar oorreed het. Hy het op sy beurt ook ’n klag aanhangig gemaak. Laaste oproep aan ma

Karabo is op 27 April laas lewend gesien toe sy teruggekeer het na Mantsoe se woonstel in Sandton. Sy het haar ma op 28 April gebel en gefluister sy kan nie praat nie. Haar verbrande lyk is op 29 April in ’n veld in Lyndhurst, Johannesburg aangetref nadat sy die vorige dag as vermis aangemeld is.

Die paartjie het glo die oggend voor haar verdwyning baklei. Hulle is glo op daardie Vrydagoggend gewaar toe hulle by sy woonstel in Sandton ingaan en hy het kort daarna die woonstel in ander klere verlaat. Hy het glo teruggekeer met ’n vullisdrom en is toe weer daar weg.

Lolo het aan Checkpoint gesê toe sy besef haar dogter is weg, is sy polisie toe en die polisie het na Mantsoe se woonstel gegaan.

‘Gat in my hart’

“ ’n Polisievrou het gesê sy wil my alleen in die ander kamer sien. Sy’t vir my gesê Karabo is weg. Ek het gehuil. Dit was asof daar ’n gat in my hart was.” Die familie is na die toneel geneem en Lolo het daarop aangedring om haar dogter se oorskot te identifiseer.

“Ek het nie omgegee dat sy gebrand is nie, ek wou my dogter sien. Ek kon haar tone sien, sy het rooi naellak aangehad.” Die saak teen Mantsoe (27) is tot 24 Mei vir ’n formele borgtogaansoek uitgestel. Die staat het aangedui dat hulle borgtog sal teenstaan. Benewens die klag van die moord op die 22-jarige deeltydse student, word Mantsoe ook aangekla en dwarsboming van die gereg.

Bron: news24.com