Die minister van basiese onderwys, Angie Motshekga, en die LUR vir onderwys in Limpopo, Ishmael Kgetjepe, moes vandag behoorlik vure doodslaan op ’n perskonferensie in Limpopo.

Die departement se woordvoerder, Elijah Mhlanga, het vroeër vandeesweek gesê ’n paar leerders in die Mopani-distrik het wiskundevraestelle in die hande gekry voor die eksamen geskryf is.

Die minister het op vandag se perskonferensie gesê die wiskunde tweede vraestel het glo van ’n bron buite die provinsie gekom.

Vroeër is berig die vraestel is in die sosiale media versprei.

“Die departement beskou hierdie voorval in ’n baie ernstige lig en het intussen die Valke en  Suid-Afrikaanse Polisiediens genader om dit te ondersoek. 'n Saak is reeds by die polisie aanhangig gemaak,” sê Elijah.

Vanjaar lê 677 141 voltydse en 150 183 deeltydse leerders die eksamen af.

"Die departement gaan alles in sy vermoë doen om hoë vlakke van sekuriteit landwyd te verseker en wil leerders waarsku om nie aan misdadige optrede deel te neem nie.

"Ons vra ouers, leerders en die publiek om enige gevalle van vraestelle wat gelek of ontbloot word, aan te meld," sê Elijah.