“Ons glo van die mense wat vragte en passasiers vervoer, moet onderwerp word aan dit waaraan die lugvaartsektor onderwerp word,” het sy in Pretoria gesê.

“Om die Verenigde Nasies se vereistes van ’n afname van 50 persent in padsterftes teen 2020 te bereik, moet ons leer by die lugvaartsektor. Ons moet daardie streng reëls op die pad toepas.”

Dipuo het ’n beraad oor lugvaartgeneeskunde-opleiding en navorsingsprogramme deur die Suid-Afrikaanse Burgerlike Lugvaartowerheid, die Instituut vir Lugvaartgeneeskunde en vier instellings van hoër onderwys toegespreek. “Vlieëniers ondergaan mediese ondersoeke. Ons het baie mense wat ons busse, treine en vragte bestuur wat nie gereeld ondersoek word nie.”

Vlieëniers moet voldoen aan streng regulasies en het ’n verantwoordelikheid teenoor hul passasiers. “Ons gaan mediese ondersoeke bekendstel as deel van ons padveiligheidsveldtog. Dit behoort ’n vereiste te wees dat mense wat openbare vervoermiddels bestuur en lang afstande ry, gesond is,” het Dipuo gesê.

Sy het gesê die bestuurders behoort elke ses maande fiksheidsondersoeke te ondergaan. Daar is Woensdag ’n gradeplegtigheid gehou vir 12 dokters wat hul B.Sc. (Hons.)-graad in ruimtegeneeskunde aan die Universiteit van Pretoria behaal het. Vyftien dokters het ook sertifikate ontvang om aangewese lugvaart-ondersoekers te word wat voldoen aan internasionale burgerlike lugvaartvereistes.