Taxibestuurders, gewoonlik die skobbejakke van die pad, het soos engele laer getrek om ’n beseerde ingenieurstudent in sy 20’s, Elrich Engelbrecht, wat op sy motorfiets op pad was om eksamen te skryf by Tukkies se Mamelodi-kampus en toe in ’n tref-en-trap-ongeluk betrokke is.

’n Ander taxibestuurder het die rooi Citi Golf, wat die ongeluk veroorsaak het, agternagesit en voorgekeer.

“Die taxi’s het hom omsingel sodat ander voertuie hom nie beseer nie, vertel sy dankbare ma, Bronwynn Engelbrecht, ’n DA-raadslid van Pretoria. “Dis mind blowing wat hierdie mense gedoen het. My seun kon dood gewees het as hulle nie so vinnig opgetree het nie.”

’n Tshwane-paramedikus wat op pad was werk toe, het uit sy minibustaxi geklim om na Elrich om te sien. Hy het die ambulans gebel en die beseerde jong man tot by die Wilgers-hospitaal vergesel om seker te maak hy is oukei.

’n Ander student op pad eksamen toe het besluit om by Elrich se beskadigde motorfiets te bly sodat niemand dit steel nie. “Ons is besig om te reël dat hy sy eksamen op ’n ander tyd skryf.”

Elrich is ’n Springbok in onderwaterhokkie en die kaptein van die o. 23-span, wat volgende jaar na die Wêreldbeker-toernooi in Hobart, Australië gaan.

“Prys die Here sy linkerbeen moet darem net chirurgies, en nie ortopedies nie, herstel word. ’n Pen is in sy linkerbeen geplaas tot by die murg. Sy knie is ’n bietjie messed up. Maar ons is positief hy sal volkome herstel,” vertel Bronwynn.

Hy is gelukkig ook ’n goeie motorfietsryer en het die agterremme gebruik om regs om die motor te draai voor hy geval het.

“My seun lewe en is wil vir almal wat betrokke was, dankie sê. Ons het ’n wonderlike nasie. Dit bewys net my geloof in die goedheid van mense.”

Sy het die storie op haar Facebook-blad gedeel:

Byna 4 000 mense het positief gereageer op die inskrywing. En meer as ’n 1 500 het dit gedeel.

“Dit is ’n bevestiging dat ons land meestal goeie mense het. My seun ry ook motorfiets en ek bid vir Elrich se spoedige herstel,” skryf Karin Petzer.

“Bronwynn, hierdie is net weer ’n bewys dat wat jy aan ander doen, altyd in veelvoud na jou toe sal terugkom. Jy gaan altyd uit jou pad vir ander mense en doen letterlik soms onmenslike goed vir ander - gister was dit jou en jou gesin se beurt om terug te ontvang. Net so jammer vir hom oor die eksamen wat nou nie geskryf is nie, skryf Marié Hill.

Hilda Smit sê: “Mooi so, mede-Suid-Afrikaners. Dit wys net ons kan almal saamstaan.”

En Terrence Human skryf: “Wow. Wow. Weer wys gewone mense ons gee vir mekaar om, ongeag kleur en ras. Mense gee om. Dit gebeur ál meer en meer en is goed vir ons reënboognasie.”