In die heel eerste saak in sy soort in Suid-Afrika is ’n minderjarige skoolmeisie in Welkom aan die vervaardiging en verspreiding van kinderpornografie skuldig bevind berig Volksblad.

Die kind, wat ten tyde van die gebeure verlede jaar net 16 jaar oud was, is nou swanger.

Volgens Volksblad is sy ná ’n pleit-en-vonnis-ooreenkoms met die staat drie jaar tronkstraf opgelê wat in geheel en voorwaardelik vir drie jaar opgeskort is. As deel van haar vonnis moet sy ook by maatskaplike programme inskakel.

Haar skuldigbevinding spruit uit die gebeure wat daartoe gelei het dat ’n 42-jarige man met wie sy ’n verhouding gehad het, reeds verlede jaar op dieselfde aanklagte 13 jaar tronkstraf opgelê is, wat in geheel en voorwaardelik vir vyf jaar opgeskort is.

Die meisie het luidens hofstukke op haar eie inisiatief vir Booysen en skoolseuns van tussen 14 en 16 jaar naakfoto’s van haarself gestuur.

Sy het seks, seksuele gunste en naakfoto’s van haarself gebruik in ruil vir geld, klere, lugtyd en beloftes van ’n eie motor.

Luidens die maatskaplike verslag is sy lank reeds seksueel aktief.

Die meisie se dade het aan die lig gekom toe haar pa haar selfoon by haar weggeneem het toe sy een Sondag sonder toestemming uit die kerk ge¬stap het.

Hy het die foto’s en gesprekke daarop ontdek.

Volsblad berig dat hy ’n dringende ingryping gevra het omdat hy geen beheer oor haar het nie en sy haar nie aan gesag steur nie.

Sy word tans in ’n plek van veiligheid gehou totdat maatskaplike dienste oor haar toekoms besluit het.

Bron: Volksblad.com