Van 2 Maart af tel die sokkerwêreld die laaste 100 dae na die wêreld se grootste sportgebeurtenis af. Maar daar is ’n gemor oor verblyf wat te duur is, vlugte wat te duur is, pakkette vir oorsese besoekers wat te duur is, kaartjies wat te duur is vir plaaslike entoesiaste . . .

Heel onlangs het Fifa toe wel besluit om meer goedkoop kaartjies vir Suid-Afrikaners beskikbaar te stel.

Beperkte geld, duur vlugte, buitensporige hoteltariewe, moeilike binnelandse vervoer, onsekerheid oor veiligheid en winterweer het die belangstelling in die Wêreldbekertoernooi onder selfs Engelandse ondersteuners ietwat gedemp.

Van die goedkoopste toerpakkette vir Britse aanhangers kos sowat £3 500 (sowat R42 000), reis- en verblyfkoste en ’n groepkaartjie of wat ingesluit. As buitelanders self wedstrydkaartjies wil koop, kos die goedkoopstes sowat R600. Vir diegene wat self hul vlug reël, verkoop ’n toeroperateur in Engeland ’n “sakesitplek-pakket’’ vir R7 000.

Sugen Pillay, SA Toerisme se globalegebeurebestuurder, glo ons vergelyk prysgewys nie sleg nie, en die aanvanklik verwagte 450 000 buitelandse besoekers is steeds haalbaar. Sowat 150 000 van dié mense is van die uitgebreide Fifa-familie en sy kommersiële vennote “en reis dus beslis hierheen”.

Brett Dungan, uitvoerende hoof van die gasvryheidsbedryfliggaam Fedhasa, sê: “Ons raming is nader aan ’n totaal van 300 000.”

IS SUID-AFRIKA DAN TE DUUR?

“Wat kaartjiepryse betref, is dié Wêreldbeker steeds sowat 30 tot 40 persent goedkoper as die vorige een,” sê Sugen. Met sulke geleenthede sal pryse in enige land styg; dis blote vraag en aanbod. Maar hy pleit ook vir balans: Moenie te veel vra vir wat jy bied nie. Want as ons eers bekend raak as ’n duur bestemming, gaan ons nie die werklike langtermynvoordele van 2010 smaak nie.

DIS VER...

Anders as byvoorbeeld Duitsland in 2006, waarheen baie Europeërs maklik gereis het, is dit klaar duur om hier uit te kom, bloot omdat dit ver is.

KAARTJIES

Sowat 2,13 miljoen uit amper 3 miljoen kaartjies was by ons ter perse gaan al verkoop, en Brett meen ons kan teen einde April weer ’n kaartjiestormloop verwag.

Lees nog hieroor in Huisgenoot van 4 Maart.

Bespreek vir Skouspel!