As ’n mens gedurende die Kerstyd moet werk, moet jy maar probeer om ’n paar dae tussendeur af te knyp sodat jy darem ook ’n smakie van die Desembervakansie kan hê.

[caption id="attachment_151339" align="alignnone" width="600"]Kersfees is ‘n tyd om saam met geliefdes te wees, sê Ray. Kersfees is ‘n tyd om saam met geliefdes te wees, sê Ray.[/caption]

Dit is presies wat die sanger Ray Dylan doen. Hy het hierdie maand verskeie optredes in die Oos- en Wes-Kaap. Omdat sy verloofde, Jessica Erasmus, ’n onderwyseres is en nou vakansie het, toer sy saam.

“Ons maak maar ’n vakansie daarvan,” vertel die sanger.

[caption id="attachment_151340" align="alignnone" width="600"]Ray en sy verloofde, Jessica, ontspan langs die see. Ray en sy verloofde, Jessica, ontspan langs die see.[/caption]

Hy het ’n paar dae af gehad, en dit het hulle die geleentheid gegee om by sy aanstaande skoonfamilie op Uitenhage te gaan kuier. Daarna moes hulle weer die pad vat. Die laaste gedeelte van sy Kaapse toer bestaan uit optredes by plekke soos Plettenbergbaai, Gordonsbaai, Dubanville en die Paarl.

“Ek en Jess ry die 24ste uit die Paarl,” vertel Ray. “Kersdag gaan ons saam met vriende op Parys middagete geniet en lekker saam kuier. Dankie, Shaun en Chantel!”

Wat is op Ray se Kersgeskenk-wenslysie? “Hmm . . . Wel, ek kort ’n nuwe Mac-rekenaar!” skimp hy.

En wat is sy hoogtepunt die afgelope jaar? “My en Jess se verlowing,” sê hy dadelik. “Ons het ’n goeie jaar saam gehad.”

Geen wonder dit waarna hy die meeste in 2017 uitsien, is hul troudag in April nie!