'n Vroulike miljoenêr van Manhattan het R1,4-miljoen ($100 000) in ’n trustfonds nagelaat vir haar 32 troetelkokketiele.

Volgens die New York Post lui Leslie Ann Mandel se testament dat haar geliefde voëls moet “aanbly in die voëlhok“ by haar huis van R55-miljoen in East Hampton, New York.

Sy het al die voëls by hul name genoem in haar wetsdokumente - Wheetie, Port, Blackie, Zippy, Tara, Zara, Shasha, Pigeon, Victory, Alie, Zack 12, Dart, Cubby, Max, Baby, Ruthie, Pumpkin, Tattoo, Susie, Tracy, Margie, Sammy, Angel, Inky, Sara, Tundra, Tanteleah, Eva, Cody, Nicki, Avis en Dragon.

Daar staan ook in die testament: "Dit is my wens dat die voëls moet kos kry en dat die gebou elke Maandag en Donderdag skoongemaak moet word. Hul kos moet by Avi-Cakes gekoop word en hul moet ook wortels, water en springmielies kry.

Leslie Ann, wat met die wetenskapfiksieskrywer, Arthur Hertzog, getroud was, het haar stiefseun, Matthew Hertzog, benoem as trustee van die fonds en hy moet ook sorg vir ’n kat met die naam Kiki en ’n reddingshond met die naam Frosty.

Sy is in Junie in die ouderdom van 69 jaar oorlede nadat sy ’n fortuin ter waarde van R73-miljoen bymekaargemaak het.