Daar is meer as 3,7 miljoen mense wat toegang het tot hul finansiële rekenings op hul toestelle. Maar hoewel dit maklik, vinnig en gerieflik is, is daar ook verskeie risiko’s aan verbonde.

Daarom is verhoogde  veiligheids- en rugsteuningstelsels vir toestelle nie meer net ’n opsie nie; dis noodsaaklik.

Volgens Dail Direct se woordvoerder, John October, is slimfone en tablette kwesbaar vir virusse en spioenasieprogramme.

Mens moet veral op die uitkyk wees vir dié skadelike programmatuur Trojan, want dit kom meestal voor as ’n wettige speletjie of program en dit is spesifiek ontwerp om sensitiewe inligting soos wagwoorde en rekeningnommers te steel.

“Jy moet baie versigtig wees oor wat jy aflaai en waar, want jy kan nooit seker wees dat die program wat jy aflaai, wettig is nie,” vertel October.

As jy nie ’n goeie veiligheidsprogram op jou toestel installeer nie, stel jy jou privaat inligting, soos jou bank besonderhede, in gevaar.

Dit is ook nuttig om al jou foto’s en inligting wat op jou toestel is, te rugsteun vir ingeval dit gesteel word of ’n virus alles uitvee.

Sellulêrediensverskaffers voorsien  hierdie veiligheid- en rugsteuningstelsels. Dit moet wel deur die gebruiker geaktiveer word en ’n heffing vir intekening betaal word.

“Dit is die moeite werd om seker te maak dat jou slimfoon aan al die veiligheidsvereistes voldoen sodat jy veilig op die internet kan rondsnuffel en gerieflik jou banktransaksies uitvoer.”