Klou jy verbete vas aan jou getroue slimfoon waarmee jy reeds verskeie jare ’n goeie verhouding het? Als goed en wel, maar as jy WhatsApp op daardie einste foon gebruik, moet jy verder lees. Jou slimfoon gaan dalk net nie wys genoeg wees om teen die einde van die jaar nog tred te hou met WhatsApp nie.

Wie word daardeur geraak?

As jou slimfoon nog met die ouer weergawes van Android, iOS en Windows Phone werk, is die kans goed dat jou dae van kitsklets binnekort neusie verby gaan wees.

Die weergawes waarna spesifiek verwys word, is: Android 2.2 Froyo, iOS 6 en Windows Phone 7 & 8. Vir die gewone slimfoongebruiker klink hierdie behoorlik Grieks.

Android 2.2 Froyo is slimfoon-sagteware wat Google op 20 Mei 2010 geloods het. Die vervaardiging van dié sagteware is ’n geruime tyd reeds gestaak. Terloops: Froyo is inderdaad die afkorting vir bevrore jogurt ("Frozen yoghurt")

’n Goeie aanduiding is dat enige slimfoon ouer as vyf jaar in alle waarskynlikheid nie oor die regte sagteware beskik om langer met WhatsApp te kan kommunikeer nie.

Apple se iOS 6 het in September 2012 die lig gesien met die vrystelling van die iPhone 5. As jy hierdie boodskap ontvang het terwyl jy WhatsApp probeer gebruik, is daar ongelukkig geen ander uitweg as om ’n nuwer selfoon aan te skaf nie: "Unfortunately, you won’t be able to use WhatsApp on this phone as WhatsApp will no longer support older versions of iOS."

Volgens Cydia Geeks kan jy self jou slimfoon se sagteware weergawe verander, maar ons beveel dit beslis nie aan nie.

Is jy al bekommerd? Haal vir eers asem. Die enigste iPhone waarvan die sagteware (iOS 7) tot dusver nog nie bygewerk is nie, is die iPHone 3GS wat in 2009 vervaardig is.

Windows Phone 7 & 8 se WhatsApp-funksie het reeds vanaf 1 Julie 2016 tot ’n einde gekom. Gebruikers sou agterkom dat hulle nie ’n rekening op hul Windows Phone 7-slimfoon kon skep of na Windows Phone 8 kon oordra nie.

As jy ’n Windows Phone 8 gebruik en daar's ’n internetverbinding, behoort jy geen probleme met WhatsApp te ondervind nie.

Is jy nog onseker of jou slimfoon op die WhatsApp-swartlysie verskyn?

Hier is die lys wat deur WhatsApp self verskaf is:

1. BlackBerry OS and BlackBerry 10

2. Nokia S40

3. Nokia Symbian S60

4. Android 2.1 and Android 2.2

5. Windows Phone 7

6. iPhone 3GS/iOS 6

Moet ek my BlackBerry nou weggooi?

Wag voordat jy daardie drastiese stap neem!

Die WhatsApp-groep het die funksie vir BlackBerry OS, BlackBerry 10, Nokia S40 en Nokia Symbian S60 tot 30 Junie 2017 verleng.

Bronne: telegraph.co.uk, indusnet.co.in, gadgets.ndtv.com, cydiageeks.com, www.whatsapp.com