Ondanks haar sukses voel Miley Cyrus steeds soos ’n buiteperd.

Die sangeres, wie se verlowing aan Liam Hemsworth verlede maand verbreek is nadat hulle vier jaar saam was, dink dis baie koeler as almal nie van jou hou nie. Sy konsentreer nou op haar loopbaan en leef in die oomblik.

“Ek moet my musiek soos ’n verhouding benader – ek moet dit die tyd en aandag gee wat dit verdien – en dit is op die oomblik my groot liefde,” sê die 20-jarige in die Desember-uitgawe van die tydskrif Cosmopolitan. “Dit is die beste tyd van my lewe. Ek gaan nie eendag terugkyk en dink: Ek wens ek het nie so getob oor ’n verbrokkelde verhouding nie. Jy weet?”

Ten spyte van die sukses wat sy met haar liedjie We Can’t Stop behaal het, sê die omstrede sangeres sy het nog baie kritici. “Alles is op die oomblik so chaoties en dol en alles gebeur gelyk, maar ek leef daarvoor. Ek geniet dit gate uit en alles val in plek soos dit moet wees. Selfs mense wat nie van my hou nie kan nie die feit ignoreer dat my naam op almal se lippe is nie.”

Sy het bygevoeg: “Ek wil nie sê dat ek nou die heel beste is nie – ek voel ek is soort van ’n buiteperd op ’n koel manier. Om van my te hou is amper soos om van punk-rock te hou omdat dit nie die regte ding is om te doen nie. Die mense daar buite wil my stilmaak.”