Miley Cyrus sê sy is heeltemal te volwasse om vriende te wees met Justin Bieber, al is sy net ’n jaar ouer as hy.

Miley (20) is bang Justin (19) dink sy kyk neer op hom omdat sy hom graag raad gee. Tog sê sy haar lang jare in die vermaaklikheidsbedryf maak haar baie wyser as hy. Hy moet nog grootword, reken sy.

Op ’n vraag of sy en Justin vriende is, het Miley gesê: “’n Bietjie, maar nie regtig nie. Ek is nie baie ouer as hy nie; daarom wil ek nooit voel ek is sy mentor nie. Maar ek is tog op ’n manier sy mentor omdat ek hierdie s****t al ’n lang tyd doen.”

Miley probeer intussen steeds haar Hannah Montana-beeld vir goed afskud. Sy het haar bestuurspan afgedank voor sy haar album Bangerz gemaak het omdat sy gedink het hulle sal nie van die nuwe Miley hou nie. Sy het nou Britney Spears se bestuurder, Larry Rudolph, aangestel.