Miley Cyrus gaan glo uit met Theo Wenner, ’n fotograaf van die tydskrif Rolling Stone.

Die sangeres is glo smoorverlief op Theo (26) en praat ’n paar keer per dag met hom.

Sedert Miley en die akteur Liam Hemsworth (23) verlede maand hul verlowing verbreek het, was haar naam gekoppel aan dié van die musiekvervaardiger Mike WiLL Made (24).

’n Bron het aan die skinderwebtuiste RadarOnline.com gesê: “Sy gaan beslis met hom uit. Miley praat oor hoe sexy Theo is, en hoe goed hy vir haar is. Sy het beslis rooi hakskene oor hom.”

Miley (20) het verlede week in New York uitgesluip by ’n partytjie ter viering van haar nuwe album, Bangerz, om haar nuwe liefde te ontmoet. Die bron het gesê: “Hy het nie die partytjie bygewoon nie, maar sy het uitgesluip en hom by The Plaza ontmoet. Sy het gesê sy het nog nooit iemand soos Theo ontmoet nie.”

Miley het verlede maand op die voorblad van Rolling Stone verskyn. Theo se pa, Jann Wenner, is die tydskrif se eienaar en hoofredakteur. Theo het in 2011 met die aktrise Liv Tyler (36) uitgegaan.