Die Wrecking Ball-sangeres het gepraat oor die kreatiewe proses agter dié musiekvideo – waar sy kaal op ’n sloopbal sit – en erken om voor die kamera te huil was ’n groter uitdaging as om die klere te laat waai.

“Naaktheid was nog nooit iets waaroor ek my bekommer het nie,” sê sy “Ek dink anders daaroor as ander mense. Ek sou eerder kaal wees voor mense as om voor hulle te huil, want ek hou nie daarvan om my swakhede te wys of kwesbaar te wees nie.”

In die video is daar ook nabyskote van die 20-jarige ster – wat onlangs haar verlowing aan die akteur Liam Hemsworth (23) verbreek het – waar sy huil en Miley sê sy het regtig die emosies ervaar wat sy in die video wou oordra.

“Ek het regtig gevoel wat jy daar sien,” het sy in ’n onderhoud met Vevo gesê. “Ek wou hê mense moes in my oë kyk . . . jy kan dit nie naboots nie. Jy kan trane namaak, maar ek het nie, want as jy in iemand se oë kyk, kan jy agterkom of hulle werklik voel wat hulle sê.”