Miley Cyrus sê sy het met haar vertoning by die MTV Video Music Awards (VMA’s) soos Madonna en Britney Spears geskiedenis gemaak.

Die sangeres van We Can’t Stop het verlede maand in New York op die geleentheid ’n gewaagde verskyning in ’n bleek bikini gemaak, na Robin Thicke getwerk terwyl sy haar tong uitgesteek het en suggestief met ’n skuimrubberhand poseer. Ten spyte van die kritiek wat dit uitgelok het glo sy dat die vertoning in die geleentheid se geskiedenis as ’n belangrike oomblik bekend sal staan.

Sy het in ’n onderhoud met MTV gesê: “Ek steur my nie aan die neerhalende aanmerkings nie, want ek het dit gesien slaag. Hoeveel keer het ons dit in popmusiek sien slaag?

“Jy weet nou . . . jy weet wat gebeur het. Madonna het dit gedoen, Britney het dit gedoen. Elke VMA-vertoning, elkeen wat optree . . . Dis wat jy wil hê.

“Jy wil geskiedenis maak. Ek en Robin het die hele tyd gesê: Jy weet dat jy nou geskiedenis gaan maak?”

Madonna en Britney het opspraak verwek toe hulle in 2003 tydens hul optrede tydens die prysuitdeling gesoen het.

Miley (20) meen dat mense wat haar gekritiseer het, die vertoning, waarin sy gladweg van haar liedjie We Can’t Stop oorgeskakel het na Robin se stout treffer Blurred Lines, “te veel dink”.

Sy het bygevoeg: “Hulle dink te veel daaroor. Jy dink meer daaraan as ek toe ek dit gedoen het. Ek het nie eens daaraan gedink nie omdat dit net ek is.”

Die gewese Disney-ster is besig om haar van ’n popprinses in ’n volwasse kunstenaar te omskep en het glo dadelik ná die VMA’s saam met die rapper Kanye West aan ’n verwerking gaan werk.