Sy kon dit nie weerstaan nie. Die sangeres Miley Cyrus het Sondag ’n zol op die verhoog gerook en met ’n dwerg ge-twerk tydens MTV se Europese Musiekpryse.

Die 20-jarige popster het die prys vir die beste video vir haar liedjie Wrecking Ball gewen by die geleentheid waar verskeie ander kunstenaars opgetree het, onder wie Eminem en Katy Perry.

Miley het die geleentheid, met die ruimte as tema, geopen met die liedjie We Can’t Stop in ’n silwer spandeks-kostuum en ge-twerk in die rigting van haar vroulike dansmaat. Sy het teen die einde van die optrede in die Ziggo Dome in Amsterdam tot groot vermaak van die gehoor haar tong uitgesteek, dieselfde streke as tydens haar gewaagde optrede in Augustus by die MTV Music Video Awards in New York.

Nadat sy die groot prys teen die einde van die geleentheid gewen het, het sy dit gevier deur ’n groot zol aan te steek en ’n vinnige trek te vat. Dagga is nie wettig in Nederland nie, maar rokers kan nie vervolg word vir die besit van klein hoeveelhede nie, en dit word openlik in kafees verkoop.

Miley, wat lankal haar soet beeld as die kinderster van Hannah Montana afgeskud het, het geen geheim gemaak van haar bewondering vir Amsterdam se aanloklikhede nie.

Sy het die Vrydag voor die geleentheid reeds geland en by die Greenhouse-koffiewinkel met verskeie ander sterre uitgehang. Sy het ook oorfone met daggablare daarop gedra tydens ’n opvoering van Wrecking Ball teen die agtergrond van ’n groot videoskerm met ’n prent van haar wat huil. – Sapa