Miley Cyrus se pa het sowat R240 000 op ’n geskenk vir haar 21ste verjaardag geblaas.

Die Wrecking Ball-sangeres het dié mylpaal Saterdag gevier en ’n  aangepaste driewielmotorfiets present gekry by haar sangerpa, Billy Ray Cyrus.

Die 2014 Can Am Spyder het piepklein etse van Miley se voorletters op die bakwerk wat die voertuig nog duurder as die standaardmodel maak, berig TMZ.

Maar die geskenk was dalk nie vir Miley ’n verrassing nie, want Billy Ray is Vrydag gekiek toe hy saam met sy 13-jarige dogter, Noah, daarop ry.

Miley se verjaardagviering het op ’n lae nooit begin, want iemand het Vrydag by haar woonplek ingebreek.

Die voormalige Hannah Montana-ster was glo “baie geskok” nadat iemand die middag by haar huis in Studio City ingebreek het en met “persoonlike items” vort is. Daar is later bekend gemaak juweliersware is gesteel.

’n Bron het gesê: “Sy is vreeslik ontsteld en heelwat persoonlike besittings is gesteel. Sy is baie geskok ook die hele ding.”

Die polisie ondersoek die misdaad en sê dit is onduidelik hoe die inbreker toegang tot Miley se huis verkry het. Niemand was tuis tydens die inbraak nie.