Gamelink, ’n vervaardiger van “volwasse vermaak”, het Miley (20) genader om “volle kreatiewe beheer” oor die sekstonele in ’n pornofliek te neem. Hiervoor bied hulle haar ’n klein fortuin aan.

Die maatskappy se adjunkvoorsitter, Jeff Dillon, het Woensdag’n brief aan Miley se verteenwoordigers gestuur. Hy loof haar “bemagtigde houding jeens seks” daarin, en sê hy wil haar help om haar ou Hannah Montana-beeld af te skud.

Hy het geskryf: “Jy het ’n bemagtigde jong vrou geword, wat nie verskoning vra vir jou leefstyl nie, veral nie wanneer dit kom by die uitlewing van jou seksualiteit nie . . . jy is die ideale keuse om die wêreld jou visie as ’n kunstenaar in die wêreld van volwasse vermaak te toon.”

Die brief verwys selfs na Miley se onlangse onenigheid met die sangeres Sinead O’Connor, wat gesê het Miley verkoop haarself aan die musiekbedryf deur haar beeld te seksualiseer.

Die brief, wat in TMZ se besit is, vervolg: “Ons by Gamelink voel dit gun jou die geleentheid om eindelik aan die wêreld te wys jy is nie meer ’n klein meisietjie nie, en jy buig nie voor die druk van mense soos Sinead O’Connor, wat jaloers is op jou sukses nie.”

Die aanbod kom nadat Miley Maandag op die Today Show was. Sy het toe erken sy het die aandag geniet wat sy gekry het ná haar en Robin Thicke se stomende vertoning by die MTV Video Music Awards in Augustus.