Miley Cyrus het glo nie tyd om te trou nie.

Die sangeres van Wrecking Ball het glo haar verlowing met Liam Hemsworth verbreek. Na bewering het hulle die afgelope paar maande baie oor haar nuwe beeld en uitlokkende gedrag gestry. Miley het onder meer by die MTV-videomusiekpryse suggestief met Robin Thicke op die verhoog gedans.

In ’n onlangse onderhoud met die tydskrif Harper’s Bazaar het Miley gesê sy beplan nie om in die nabye toekoms te trou nie. Sy het ook onlangs opgehou om die ster van The Hunger Games op Twitter te volg.

Sy het gesê: “Ek het beslis nie nou tyd om ’n troue te hanteer nie. Maar ek sal die een of ander tyd.”

Miley (20) sê sy kan nou stout wees omdat sy in die kollig grootgeword het en nooit volgens haar ouderdom kon optree nie. Sy het bekend geraak om haar rol as Hannah Montana op die Disney Channel.

Sy het gesê: “Ek was ’n volwassene toe ek veronderstel was om ’n kind te wees. Nou is ek ’n volwassene en tree op soos ’n kind.”