’n Man wat die naweek vermis geraak het terwyl hy die Midmar-myl op Howick naby Pietermaritzburg geswem het, is nog nie opgespoor nie, sê KwaZulu-Natal se polisie.

Lt. Jack Haskins van die soek-en-reddingseenheid sê: “Hy is nog nie opgespoor nie; ons soek nog.”

Teen seweuur Woensdagaand is daar nog met drie bote na die 43-jarige Herman “Thabo” van Straten gesoek.

Herman is as vermis aangemeld nadat hy nie Saterdag by die eindpunt van die swemkompetisie opgedaag het nie.

Die polisie gaan Donderdag om 17:00 besluit of hulle die soektog gaan voort sit of nie.

Dinsdag het Herman se verloofde, Shane Jones, glo gekla sy het nie Saterdag behoorlike hulp van die organiseerders van die geleentheid gekry nie.

Shane het aan The Star gesê sy is “van bakboord na stuurboord gestuur” toe sy Herman as vermis probeer aanmeld het.

Shane sê die organiseerders het met die volgende nommer voortgegaan nadat hy as vermis aangemeld is.

In 2011 het Nick Mellet tydens die 38ste aQuelle Midmar-myl-wedren vermis geraak. Sy lyk is vier dae later gekry.