Sir Mick Jagger is “volkome verslae” oor die dood van sy lewensmaat van die afgelope 13 jaar, L'Wren Scott.

Die sanger van The Rolling Stones het saam met die groep in Australië getoer toe hy van L’Wren se dood ingelig word. Die modeontwerper het oënskynlik gister haar eie lewe geneem.

Sy woordvoerder het gesê: “Hy is volkome geskok en verslae oor die nuus.”

L’Wren se assistent het gisteroggend omstreeks tienuur op haar afgekom waar sy in haar huis in Manhattan, New York, aan ’n serp aan ’n deurknop hang.

Die assistent het by die woonstel ingegaan nadat L'Wren haar in ’n teksboodskap aangesê het om dit te doen.

’n Woordvoerder van New York se polisie het gesê: “Om ongeveer 10:05 het die polisie na 11th Avenue 200 gegaan.

“Met hul aankoms het die beamptes ’n 49-jarige vrou bewusteloos en reaksieloos gekry. Die nooddienste het ook gereageer en haar op die toneel dood verklaar. Die ondersoek duur voort en die mediese ondersoeker sal die oorsaak van dood bepaal.”

Die polisie sê geen misdaad word vermoed nie, maar hulle wag op die ondersoeker se finale verslag.

L'Wren, ’n voormalige model met ’n lengte van 1,9 m, het Mick in 2001 op ’n fotosessie ontmoet toe sy as ’n stilis gewerk het. Hulle het begin uitgaan, maar eers in 2005 in die openbaar saam verskyn toe hulle die Golden Globes-geleentheid bygewoon het. In onlangse jare het hulle hul tyd verdeel tussen New York en Londen, waar sy ’n ontwerpateljee het. Hulle het  ook ’n woonstel in Parys saam besit.

Nadat sy jare lank ’n suksesvolle model en stilis was, het L'Wren in 2006 haar eie handelsmerk bekendgestel. Dit het ’n gunsteling onder glansmense soos Sarah Jessica Parker, Michelle Obama en Christina Hendricks geword.

Haar vriendin die akrise Nicole Kidman het van haar klere gesê: “Sy weet watter aspekte van ’n vrou om te beklemtoon en kan jou ongelooflik sexy en gesofistikeerd laat voel wanneer jy een van haar pragtige ontwerpe aanhet.”

L'Wren, wie se regte naam Luann Bambrough was, is in Utah gebore en deur aanneemouers grootgemaak voor sy as ’n tiener na Parys getrek het om as ’n model te werk.

Tydens haar modeloopbaan het sy ook vir rolprente kostuums ontwerp, onder meer Diabolique van 1996, Ocean’s Thirteen, Eyes Wide Shut en Shine a Light, ’n dokumentêr oor The Rolling Stones.