Sir Mick Jagger het na bewering miljoene bestee om sy “verleë” meisie, L’Wren Scott, met haar sakeonderneming te help. Sy is Maandag in haar woonstel dood aangetref.

Die voorsanger van die Rolling Stones, wat sowat R3,6 biljoen werd is, was ’n “groot steunpilaar” vir sy oorlede lewensmaat. Hy het sy bes gedoen om haar onderneming uit die knyp te kry.

L’Wren, wat haar in haar woonstel in New York gehang het, het “skaam gevoel oor wat gebeur het” met haar finansies.

’n Bron het aan die Daily Mirror gesê: “L’Wren was baie ontsteld oor wat aan die gang was met haar onderneming, veral toe sy gedwing was om haar vertoning by die modeweek in Londen te kanselleer.

“Sy was ’n trotse vrou en dit was te verstane dat sy skaam was oor wat gebeur het. Mick het haar wel met alles bygestaan, maar dié situasie het vir seker druk op hul verhouding geplaas.”

L’Wren was gedwing om in Januarie haar vertoning by die modeweek in Londen te kanselleer omdat materiaal te laat opgedaag het sodat daar voorbeelde vir die vertoning gemaak kan word.

Mense in die binnekring beweer egter dat sy die besluit gemaak het om haar geldelike probleme te verbloem. Dokumente wat in Oktober verlede jaar vir haar onderneming LS Fashion LTD het getoon dat sy ’n nadelige saldo van sowat R63 miljoen gehad het, en dat sy krediteure sowat R83 miljoen geskuld het.

’n Vriend sê: “Sy het die ramp by die modeweek op vertragings met produksie blameer, maar dit moes net die reuse finansiële probleme verbloem wat haar maatskappy gehad het.

“In die modewêreld is jou reputasie goud werd. Dit moes vir haar ’n groot slag gewees het om die vertoning te kanselleer. Haar vrese dat sy (in haar eweknieë se oë) gaan misluk, kon dalk die laaste strooi wees.”

Jo Wood, die eksvrou van Mick se medegroepslid Ronnie Wood, het gesê sy vermoed ook dat L’Wren se geldelike situasie een te veel was vir haar.

“Die finansies was dalk die oorsaak, want sy was so ’n trotse vrou; om deur so iets in die gesig gestaar te word was dalk die rede hoekom sy haarself om die lewe gebring het. Ek weet nie eintlik nie, ek is net so verbaas.”