Sir Mick Jagger dans om fiks te bly vir The Rolling Stones se uitvoerings.

Die Mother's Little Helper-sanger is bekend om sy unieke dansstyl en hy maak gereeld passies as deel van sy program om vir konserte fiks te bly.

Hy het gesê: “Ek oefen vyf of ses dae per week, maar ek gaan nie oorboord nie. Ek wissel gimwerk en dans af en dan goed soos naelloop. Ek oefen vir uithouvermoë.”

Voor ’n uitvoering gaan slaap die sanger vroeg en volg dan ’n vaste roetine om te sorg dat hy op sy beste is vir die optrede.

Mick en sy musiekgroep sal dié somer die hoofaantreklikheid op Glastonbury wees. In ’n onderhoud met die tydskrif Q het hy gesê: “Vroeg bed toe die aand voor (’n konsert), ongeveer tweeuur die oggend. Die oggend tienuur uit die vere. Enigsins vroeër en jy sal teen optreetyd te ontspanne wees. Ek het rituele, maar my rituele het ’n doel. Ek gun my twee uur om vir ’n uitvoering gereed te maak; om my stem op te warm en my geestelik en liggaamlik in die regte stemming te kry.”

Die groep was om hul wilde lewe in die 60’s, 70’s en 80’s bekend en die kitaarspeler, Keith Richards, het gereeld dae aaneen wakker gebly. Die tromspeler, Charlie Watts, hou vol hulle is nie eens meer in staat om ná ’n uitvoering partytjie te hou nie.

Hy sê: “Ons gaan slaap nie vyfuur soggens nie. Dis heel normaal om in die gang af te wandel en vyfuur soggens bed toe te gaan wanneer jy jonk is. Nie een van ons doen dit nie. Ons probeer dit doen, maar is teen tweeuur soggens (vas aan die slaap).”