Die aktrise Michelle Pfeiffer het onthul sy was deel van ’n kultus.

Die 55-jarige skoonheid het bekendgemaak sy was vroeg in haar loopbaan betrokke by Breatharianism, ’n “baie beherende” organisasie wat glo mense kan sonder kos en water klaarkom. Sy moes indertyd ’n baie streng dieet volg.

Michelle, wat op 20 na Los Angeles getrek het, vertel: “Hulle was baie beherend. Ek het nie by hulle ingewoon nie, maar ek was baie daar en hulle het altyd gesê ek moet meer kom. Ek moes betaal vir al die tyd wat ek daar deurgebring het; dus was dit geldelik baie uitmergelend.”

Michelle het eers besef sy is deel van ’n kultus toe sy haar eksman, die akteur Peter Horton, gehelp het met navorsing vir sy rol in ’n rolprent gegrond op die Moonies. Dié naam is gegee aan die volgelinge van eerw. Moon Sun-Myung se unifikasiekerk.

Sy vertel: “Ons het met ’n voormalige Moonie gepraat. Hy het die sielkundige manipulasie beskryf en dit het skielik ingesink.”

Volgelinge van Breatharianism glo kos is onnodig en sonlig bied al die voeding wat die liggaam nodig het. Die geloof ontlok wyd kritiek, want dit is al in verband gebring met ’n aantal sterfgevalle.