Dit sou dalk nie so erg gewees het as Melania Trump bloot erkenning gegee het aan die oorsprong van haar treffende toespraak nie.

Toe sy Maandagaand tydens die Republikeinse Nasionale Konvensie haar toespraak lewer, het dit iewers by opmerksames ’n klokkie laat lui. Waar het hulle dit vantevore gehoor?

Agt jaar gelede, natuurlik, toe Michelle Obama die Demokratiese Nasionale Konvensie toespreek.

Oeps.

Onmiddellik ná die konvensie was die gevoel onder joernaliste dat dit ’n “goeie aand vir die Republikeine” was.

Kwalik ’n uur later het daardie gevoel soos mis voor die son verdwyn. Mark Preston van CNN merk op dat daar moontlike plagiaat ter sprake kan wees, al is dit net een paragraaf wat baie bekend geklink het.

Kort voor lank was die CNN-paneel kwaai verdeel tussen dié wat glo Melania het niks verkeerds gedoen nie en dié wat glo dat sy, as Donald Trump se troefkaart by wyse van spreke, niks goeds oor hom te sê gehad het sonder om Michelle se woorde te gebruik nie.

In dieselfde video kan gesien word hoe Melania oor haar toespraak uitgevra word en of sy dit teenoor haar man geoefen het.

Terwyl sy langs die pronkerige Donald staan, verklaar sy ewe ernstig: “Ek het dit (die toespraak) self geskryf, met so min moontlik hulp.”

Melania het met hierdie verduideliking heel waarskynlik kortpad met die waarheid gekies.

Jason Miller, senior kommunikasiebeampte van die Trump-kamp, het die volgende in ’n verklaring te sê gehad:

“Vir haar pragtige toespraak het Melania se span skrywers aantekeninge gemaak van haar lewe se inspirasies en in sommige gevalle het hulle gedeeltes ingesluit wat hul eie denkwyse weerspieël het. Melania se immigrant-ervaring en haar liefde vir Amerika het deur haar toespraak geskitter, wat dit so suksesvol gemaak het.”

Die persoon wat vir die oorspronklike Michelle Obama-weergawe verantwoordelik was, is Sarah Hurwitz. Sy is Michelle se hoof-toespraakskrywer en doen dit al die afgelope agt jaar eksklusief vir haar.

Daardie gewraakte paragraaf wat nou met moontlike plagiaat verbind word, was destyds deel van Barack Obama se strategie om sy vrou se beeld te verbeter. Michelle is destyds as kwaad, meerderwaardig en onpatrioties beskou. Tussen Sarah en Michelle se pogings deur het hulle eindelik op die volgende besluit: Om Michelle se storie te vertel as ’n kind afkomstig uit die Chicago-werkersklas, iemand wat skepties oor die politiek gevoel het maar wel geglo het haar man het die vermoë om ’n verskil te maak. Dit het Barack Obama se gewildheid vlerke gegee.

So het Twitter op die bewerings gereageer

Bronne: dailylife.com.au, cnn.com, bbc.com