“Ondersteun ons asseblief in ons stryd saam met Michael. Dit is vir my belangrik dat julle die dokters en die hospitaal toelaat om in vrede te werk. Vertrou asseblief hul stellings en verlaat die kliniek. Los asseblief ook ons familie in vrede,” het Corinna Schumacher gesê in ‘n verklaring wat deur haar man se bestuurder, Sabine Kehm, uitgereik is.

Schumacher, 'n sewemalige wêreldkampioen, is in 'n hospitaal in die Franse Alpe sedert 29 Desember, toe hy ernstige kopbeserings opgedoen het in 'n ski-ongeluk in Meribel.

Schumacher, wat sy kop teen ‘n rots gekap het in die ongeluk, het reeds twee noodoperasies ondergaan en is sedertdien in 'n medies geïnduseerde koma.

Die verklaring van Corinna Schumacher kom ‘n dag nadat dokters gesê het “die kliniese toestand van Michael Schumacher word as stabiel gesien”, hoewel hulle steeds sy toestand as kritiek beskou.

Die mediese span het gesê uit respek vir Schumacher se privaatheid sal hulle vir tyd en wyl geen besonderhede oor sy behandeling of nuwe inligting oor sy toestand bekend maak nie.

Daar sal ook geen verdere verklarings van Corinna Schumacher wees nie.

-Sapa