schumi

Michael Schumacher ontwaak na bewering nog stadig uit sy koma.

Die 45-jarige Formule Een-kampioen het op 29 Desember verlede jaar by die Franse oord Méribel ’n ernstige ski-ongeluk gehad.

Die Britse koerant The Telegraph berig hy word tans by ’n mediese suite in sy huis in Genève behandel.

Blykbaar het Michael se 15-jarige seun, Mick, positiewe nuus oorgedra aan ’n familievriend, die Franse Formule Een-kommentator Jean-Louis Moncet, wat met die radiostasie Europe 1 oor Michael se toestand gepraat het.

“Ek het sy seun gesien en hy het gesê Michael ontwaak baie, baie stadig,” het Jean-Louis volgens die Daily Mail gesê.

“Al beweeg alles teen ’n stadige pas, het hy baie tyd. Ek sou sê die res van sy lewe lê voor vir hom om te herstel.”

Hy het ook in detail oor Michael se ongeluk gepraat.

“Die probleem was nie die slag nie; dit was die GoPro-kamera op sy valhelm wat die besering veroorsaak het,” het hy verduidelik.

Michael is ná die ongeluk in ’n geïnduseerde koma geplaas.

Michael se bestuurder, Sabine Kehm, het verlede maand in ’n verklaring gesê Michael is ontslaan uit ’n kliniek in Lausanne en sal by die huis rehabilitasie ontvang.

“Voortaan sal Michael by die huis rehabilitasie ontvang. Met inagneming van die ernstige beserings wat hy opgedoen het, het hy in die afgelope weke en maande gevorder. Maar daar lê steeds ’n lang, moeilike pad voor,” het Sabine gesê.

Michael se familie het ook in Julie gepraat; sy vrou, Corinna, het ’n boodskap in die program van die Duitse Grand Prix by die Hockenheim-renbaan.

“Geliefde motorsport-vriende, dit is ’n boodskap aan almal wat saam met Michael passie vir sy sport uitgeleef het, en wat hom in die afgelope ses maande van die baan af ook ondersteun,” het sy geskryf.

“Die Duitse Grand Prix gee my die perfekte geleentheid om julle hartlik te bedank vir al die goeie wense en positiewe energie wat julle aan Michael stuur. Ek moet erken jul simpatie was oorweldigend! Dit is goed om te weet ons maak dié moeilike tyd saam deur!”

© Cover Media