Die diewe beweer die gesteelde dokumente is mediese rekords oor sy koma ná sy ski-ongeluk in Desember.

“Gesteelde dokumente en data is al etlike dae te koop aangebied. Die verkoper beweer dit is Michael Schumacher se mediese lêer,” sê Michael se woordvoerder, Sabine Kehm.

“Ons kan nie vasstel of die dokumente eg is nie. Maar dit is duidelik gesteel; die diefstal is aangemeld. Die owerheid is betrokke,” het sy bygevoeg.

Sabine waarsku teen die koop of publisering van die data. Sy sê: “Die inhoud van enige mediese lêers is heeltemal privaat en vertroulik en moenie aan die publiek beskikbaargestel word nie.”

Sy neem haar voor om enigeen te vervolg wat die inhoud van die mediese lêer of ’n verwysing daarna publiseer.

Nadat hy vroeër vandeesmaand uit sy koma wakker geword het, is Michael van ’n Franse hospitaal na ’n instelling in Switserland oorgeplaas.

Hy is van 29 Desember verlede jaar af in die Franse stad Grenoble behandel nadat hy tydens ’n skivakansie sy kop teen ’n rots gestamp het.

Die 45-jarige is na ’n hospitaal in die Switserse stad Lausanne oorgeplaas, waar hy verder behandel gaan word.

Die renjaer se ongeluk het die wêreld geskok. Hy het twee operasies ondergaan om lewensgevaarlike bloedklonte te verwyder voor hy in ’n geïnduseerde koma geplaas is.

Intussen het Sabine gesê hy het oomblikke van bewustheid getoon, maar min ander besonderhede is bekend. Die man wat die dood talle kere op die renbaan vrygespring het, se toekoms bly onseker.

- Sapa