Luidens berigte huil Michael Schumacher wanneer hy sy vrou en kinders se stemme hoor en kommunikeer hy met sy oë.

Die sewemalige Formule Een-kampioen het Saterdag 46 geword, 13 maande ná die ski-ongeluk waarna hy ses maande in ’n koma was.

Hy het sy verjaardag saam met sy vrou, seun en dogter by hul huis by die Meer van Genève deurgering. Hy bly daar sedert hy in September uit die hospitaal ontslaan is en sy vrou, Corinna, het gesê hy is nou in ’n proses van herstel “wat waarskynlik lank sal duur”.

Die Italiaanse media nuwe besonderhede oor sy herstel bekend gemaak. Die koerant Corriere della Serra sê Michael kan deur middel van trane emosie toon. Dit berig: “ ’n Traan rol soms oor Michael se gesig. Hy huil wanneer hy sy kinders of vrou se stem hoor.

'Michael se oë is oop, maar hy staar dikwels in die niet.'

“Michael se oë is oop, maar hy staar dikwels in die niet. Die afgelope tyd herken hy die bekende gesigte van sy gesin, maar hy kan nie met hulle kommunikeer nie.

“Hy praat nie en kan nie onafhanklik bewegings uitvoer nie. Hy reageer op eksterne stimuli, maar kan tans net ’n bekende stem beantwoord deur sy oë oop te maak.”

In ’n artikel in die tydskrif Autosprint word gesê Michael kan regop sit.

Michael het ernstige kopbeserings opgedoen nadat hy sy kop teen ’n rots gestamp het terwyl hy saam met sy seun, Mick, by die Franse oord Meribel geski het.

Hy het twee breinoperasies by ’n hospitaal in Greenoble ondergaan voor hy verlede Junie na ’n hospitaal in Lausanne oorgeplaas is.

’n Chirurg wat Michael behandel het, het in Oktober gesê die Duitser sal jare nodig hê om ten volle te herstel.