Michael is in ’n koma sedert die ongeluk op 29 Desember en in ’n verklaring wat Donderdag uitgereik is, sê die familie hy “is steeds aan die ontwaak” en dat dit lank kan duur.

Die verklaring kom ’n dag nadat Duitsland se grootste koerant, Bild, berig het Michael het longontsteking opgedoen en dae nadat gerugte dat hy gesterf het, op sosiale media versprei is.

Die verklaring lui: “Michael se familie wil weer hul opregte dank uitspreek vir die volgehoue meegevoel van oral ter wêreld. Die goeie wense wat hulle ontvang, help die familie en ons is oortuig dit help Michael ook, wat nog aan die ontwaak is.

“Soos dikwels in so ’n situasie, verskil elke dag. Die familie is dankbaar vir ’n mens se begrip dat hulle nie mediese besonderhede wil bekend maak nie ten einde Michael se privaatheid te beskerm. Soos van die begin af verseker is, sal ons aanhou om enige beslissende nuwe inligting oor Michael se gesondheidstoestand bekend te maak. Ons is bewus dat die wakkerwordfase lank kan duur.

“Die familie glo steeks sterk in Michael se herstel en plaas al hul vertroue in die dokters, verpleegsters en verpleeghulpspan. Dis nie hoe vinnig hy herstel nie, maar dat Michael se herstel volgehoue en beheers vorder, wat die swaarste weeg.”

Michael se woordvoerder het op 30 Januarie bekendgemaak die middels wat hom in ’n koma hou, word verminder met die doel om hom by te bring. Daar is nie bekendgemaak wanneer dié proses begin het nie.

Michael is in die waakeenheid van die Grenoble-universiteitshospitaal sedert hy per helikopter daarheen geneem is ná sy ongeluk op 29 Desember in die Alpe-oord Meribel.

Die Duitser het geval en sy kop teen’ n rots gestamp nadat hy na ’n klein ongebaande deel afgewyk het terwyl hy saam met sy seun en ’n groep vriende geski het.

Die impak van die valslag het sy veiligheidshelm laat kraak.

Chirurge het gesê hy het bloeding en kneusing op die brein en ’n skandering het “wyd verspreide letsels” getoon. Ná ’n operasie is hy in ’n kunsmatige koma geplaas en sy liggaamstemperatuur verlaag om die risiko vir verdere skade te verminder.

Nog ’n operasie is op 30 Desember uitgevoer om die bloeding te verminder.