Toe Chad le Clos die Olimpiese superster Michael Phelps vier jaar gelede in die 200 m-vlinderslag uitstof, was dit die grootste verrassing van die Olimpiese Spele in 2012.

Wie kan die oomblik vergeet toe Chad teen die trane baklei terwyl hy luister hoe die volkslied deur die stadion weergalm en hy in glorie baai?

Michael sou ná die Olimpiese Spele in Londen uittree, maar het sedertdien van plan verander. (Het dit dalk iets met die verlore goud te doen gehad?) En voor hy en die Suid-Afrikaanse ster sou kragte meet, het die wedywering tussen die Suid-Afrikaanse en Amerikaanse swem-aanhangers ’n hoogtepunt bereik. Michael se beweerde “doodstaar” was olie op die vuur. Die jarelange Olimpiese deelnemer het skynbaar venynig na ons swemmer gestaar voor die halfeindronde in die 200 m- vlinderslag. Luidens (meestal Amerikaanse) berigte het Chad sy teenstander tydens opwarming uitgetart deur “voor Phelps te paradeer, te skaduboks en rond te dans, en duidelik gedink het hy smokkel met Phelps se kop”, soos Fox Sports dit stel.

Maar Dinsdag was D-dag en Michael het die goud teruggewen wat hy vier jaar gelede verbeur het. Suid-Afrikaners het wakker geword by die nuus dat Chad nie goud gewen het nie. Hy het trouens nie eens die podium gehaal nie en moes met die vierde plek tevrede wees.

En so kry Michael toe al die welverdiende eer. Michael word as die mees gevierde Olimpiese atleet van alle tyd beskou en hou die rekord vir die meeste Olimpiese goue medaljes – 21.

Dis meer as dubbel dié van die rekordhouers met die naasmeeste. Twitter het gegons soos mense Michael se grootheid erken: “Michael Phelps is nie menslik nie,” het ’n aanhanger getwiet. Iemand anders het sake in perspektief gestel met die grap: “Michael Phelps se gouemedalje-telling kan nou wettig drink!”

Ongelukkig het ’n paar verheugde aanhangers van Michael sake te ver gevoer en Chad op Twitter begin afkraak.

’n Ander trol het die gesprek na Chad se Wikipedia-blad geneem waar hy die swem-ster se persoonlike inligting verander het na: “Hy is dood deur die toedoen van Michael Phelps; letterlik uit die water geblaas deur die grootste Amerikaner sedert Abraham Lincoln.”

chad wiki
Cpdp-njXgAACFrG
Wikipedia het later die redigeerfunksie op Chad se blad buite werking gestel. Ongelukkig kon nare twiets en memes nie gestuit word nie.
Jy wen en dan verloor jy, reg? Kop omhoog, Chad. Suid-Afrikaners sal jou altyd ondersteun.

Bronne: Sport24, MailOnline, Fox News