Hy is in die vroeë oggendure afgetrek nadat hy in die Fort McHenry-tonnel in Baltimore met sy wit Land Rover teen 135 km/h in ’n gebied met ’n spoedbeperking van 72 km/h gery het, het Maryland se verkeersowerheid gesê. “Hy het nie na wense gevaar in ’n reeks standaardnugterheidstoetse nie,” het hulle in ’n verklaring gesê. Die 29-jarige swemmer word aangekla van bestuur onder die invloed, oormatige spoed en die oorsteek van bane met dubbellyne, het hulle bygevoeg. Michael het op Twitter sy berou uitgespreek. “Ek verstaan die erns van my optrede en aanvaar volle verantwoordelikheid,” het hy aan sy 1,6 miljoen aanhangers gesê. “Ek weet hierdie woorde beteken dalk nou nie veel nie, maar ek is baie jammer dat ek almal in die steek gelaat het.”
Michael, wat 18 Olimpiese goue medaljes agter sy naam het, het in 2012 ná die Olimpiese Spele in Londen uitgetree, maar vroeër vanjaar weer begin deelneem en oorweeg dit om aan die volgende Spele deel te neem.

Verlede maand het hy ’n skitterende terugkeer tot internasionale byeenkomste gemaak toe hy by die Pan-Pasifiese swemkampioenskapsbyeenkoms in Australië drie goue medaljes gewen het.

Sy prestasie – onder die leiding van sy jare lange afrigter, Bob Bowman – het die hoop laat opvlam dat hy in 2016 vir die Verenigde State aan die Olimpiese Spele in Rio de Janeiro sal deelneem.

In 2004 het Michael skuld erken op ’n aanklag van bestuur onder die invloed. Hy is ’n proeftydperk van 18 maande en ’n boete van R2 750 opgelê. Hy het dit toe as ’n geïsoleerde voorval beskryf.

- Sapa