Die oorlede superster se ma, Katherine Jackson, het tydens haar videoverklaring in haar familie se hofsaak vir onregmatige dood teen die konsertpromotor AEG Live gesê sy was verbaas dat Michael ingestem het om sy beplande This Is It-konserte te hou, want hy was besig om te oud te raak vir sy kenmerkende danspassies.

In haar getuienis, wat gister vir die jurie gespeel is, het sy gesê: “Hy het altyd geskerts hy wil nie op 50 nog die moonwalk op die verhoog doen nie.”

Die 83-jarige matriarg sal na verwagting vandag self in die hof getuig oor Michael wat in Junie 2009 op 50 aan ’n oordosis propofol dood is.

Die Jackson-familie dagvaar AEG, wat die This Is It-konserte in Londen gereël het, daarvoor dat hulle dr. Conrad Murray aangestel het sonder om sy agtergrond behoorlik te ondersoek. Conrad is aan onopsetlike manslag skuldig bevind vir sy aandeel in Michael se dood.

Maar AEG beweer dit was Michael wat Conrad aangestel het en die supersterk verdowingsmiddel gevra het.

Brian Panish, Katherine se prokureur, het aan die koerant New York Daily News gesê: “Katherine sal praat oor Michael se kinderjare, sy lewe, sy gesin, sy loopbaan, sy verhouding met sy kinders en hoe sy dood haar en haar kinders en Michael se kinders geraak het. Dit sal ongelooflik wees.”

Katherine het haar gehoortoestel laat nagaan ter voorbereiding van haar getuienis en daar is voorgestel dat die hof elke uur verdaag om die proses vir haar makliker te maak.

Brian het bygevoeg: “Sy hoor baie moeilik en dit put haar uit. Sy raak smiddae moeg.”

Die hofsaak het in April begin en sal na verwagting tot in September duur.