Die sanger, wat in 2009 aan ’n oordosis propfol dood is, het in 12 maande R1,6 biljoen laat inrol danksy twee suksesvolle Cirque du Soleil-vertonings, Michael Jackson One en Michael Jackson The Immortal World Tour, wat op sy treffers gegrond is.

Die verdienste het hom boaan die tydskrif Forbes se jaarlikse lys geplaas van beroemdes wat ná hul dood die geld laat inrol. Die koning van pop het die kroon oorgeneem by sy goeie vriendin, Elizabeth Taylor, wat afgeskuif het na vierde plek nadat haar boedel wat R250 miljoen verdien het.

Volgens die tydskrif het Elvis Presley ’n geraamde R550 miljoen laat inrol, wat hom die tweede plek besorg. Charles Schulz, wat die Peanuts-strokiesprent geskep het, het een plek opgeskuif na derde plek met R370 miljoen.

Die lys kyk na wat afgestorwe bekendes tussen Junie verlede jaar en Junie vanjaar laat inrol het. Die reggae-ster Bob Marley is vyfde met R180 miljoen. Ander in die top-12 sluit in Albert Einstein, Marilyn Monroe en Bruce Lee, asook die nuweling Jenni Rivera. Dié Mexikaanse sangeres, wat verlede jaar in ’n vliegongeluk dood is, het R70 miljoen laat inrol.

Forbes se lys van afgestorwe bekendes wat die meeste geld laat inrol:

1. Michael Jackson R1,6 biljoen

2. Elvis Presley R550 miljoen

3. Charles Schulz R370 miljoen

4. Elizabeth Taylor R250 miljoen

5. Bob Marley R180 miljoen

6. Marilyn Monroe R150 miljoen

7. John Lennon R120 miljoen

8. Albert Einstein R100 miljoen

9. Bettie Page R100 miljoen

10. Theodor Geisel R90 miljoen

11. Steve McQueen R90 miljoen

12. Bruce Lee R70 miljoen

12. Jenni Rivera R70 miljoen