Michael Jackson word nadoods van seksuele misbruik beskuldig.

Die choreograaf Wade Robson het op 1 Mei regsdokumente teen Michael Jackson se boedel ingedien waarin hy geldelike vergoeding eis vir molestering kleintyd deur die oorlede popster, wat in Junie 2009 aan ’n oordosis Propofol dood is, berig TMZ.

Die keerdatum vir krediteure om eise teen die boedel in te stel, is al verby. Maar Wade vra die hof moet hom toelaat om ’n laat krediteure-eis in te stel. Die publiek mag nie insae in die klagte kry nie, maar dit omskryf glo die beweerde molestering en bevat ’n verklaring van dr. David Arrendondo, ’n kinderpsigiater van San Francisco.

Wade (nou 30) het Michael ontmoet toe hy vyf jaar oud was en tussen die ouderdom van sewe en 14 gereeld by die popster se huise in Los Angeles en Las Vegas gebly.

Wade, wat al saam met sterre soos Pink en Britney Spears gewerk het, was een van die getuies in Michael se kindermolesteringsaak in 2005. Sy getuienis, saam met dié van sy suster en ma, was blykbaar deurslaggewend vir die Billie Jean-ster se vryspraak. Dit lei nou daartoe dat sy nuwe bewerings as “belaglik” afgemaak word.

Tom Mesereau, wat Michael in die hofsaak in 2005 verdedig het, het gesê: “Dis absurd. Hy was een van die sterkste getuies vir die verdediging in Michael Jackson se kriminele hofsaak in 2005. Hy was onder eed onwrikbaar daaroor dat hy nooit gemolesteer is nie.

“Hy het die aanklaer se baie aggressiewe kruisondervraging weerstaan. Hy het voet by stuk gehou en nooit geaarsel toe hy gesê het Michael Jackson het hom niks onbetaamliks aangedoen nie.”

Die prokureur het ook aan CNN gesê dis “verdagte tydsberekening” dat die eis nou ingedien word, aan die begin van Michael se ma, Katherine, en kinders, Prince (16), Paris (15) en Blanket (11), se hofsaak teen die konsertpromotors AEG Live oor die popkoning se dood.