Sy sê die hele familie, en veral die oorlede sanger se kinders, sal hom nooit vergewe vir die rol wat hy in Michael se dood gespeel het nie.

Michael Jackson se kinders sal Conrad Murray nooit vergewe vir die rol wat hy in hul pa se dood gespeel het nie, sê hul niggie.

Die popkoning se kleinniggie Tanay Jackson, die dogter van Michael se broer Tito, sê die familie is baie ongelukkig omdat die gewese dokter in Oktober uit die gevangenis vrygelaat is. Hy het minder as twee jaar van sy gevangenisstraf van vier jaar uitgedien. Hy is gevonnis vir onwillekeurige manslag op die sanger in Junie 2009.

Michael se kinders, Prince (16), Paris (15) en Blanket (11), dink veral dis ’n skande dat Conrad (60) vrygelaat is en weer aansoek gedoen het om ’n mediese lisensie. Hy is skuldig bevind daaraan dat hy ’n dodelike dosis van die doofmiddel Propofol toegedien het wat Michael se dood veroorsaak het.

Tanay het aan die New York Daily News se Confidenti@al-rubriek gesê: “Ek dink ’n moordenaar behoort ’n langer vonnis as dit te kry; ek dink nie dis regverdig nie. Ons voel werklik meer mense was betrokke by my oom se dood. Maar Conrad Murray is die skuldige omdat hy hom ingespuit het.

“Nee, ons het hom nie vergewe nie. Ons kan hom glad nie vergewe nie. Ek het daardie persoon as ’n moordenaar geklassifiseer. Ek klassifiseer hom as iemand wat met moord weggekom het. Ek kan mense in daardie kategorie eenvoudig nie vergewe nie.

“Hy behoort nie weer as medikus te praktiseer nie. Hy was die skuldige aan Michael se dood, die een wat hom ingespuit het. Dis vir ons ’n groot grap dat hy weer aansoek gedoen het om sy mediese lisensie.”

Tanay (29) dink die Thriller-sanger se dogter, Paris, is die meeste ontsteld oor Conrad se vrylating. Sy sukkel steeds om haar pa se dood te verwerk.

Tanay sê Paris is ’n tiener wat volwasse probleme probeer hanteer. Sy glo Paris, wat in Junie haar lewe probeer neem het, het haarself soms gesny om sy dood te verwerk. “Dit het verslawend geword, en ek verstaan dis nie die eerste keer dat sy dit gedoen het nie.”