Michael Jackson se kinders bestee tot R84 miljoen per jaar.

Die wyle koning van pop, wat in 2009 aan ’n oordosis propofol oorlede is, het Prince (17), Paris (16) en Blanket (13) agtergelaat, wat geld agtergelaat het vir daaglikse uitgawes wat apart is van die meer as R8 miljoen wat hul ouma Katherine ontvang om na hulle te kyk.

Volgens die New York Post se Page Six tel onder die uitgawes die R315 000 per jaar vir Prince se skoolgeld en die sessyferbedrag per jaar vir die terapeutiese kosskool in Utah wat Paris bywoon nadat sy in 2013 selfmoord probeer pleeg het.

Iemand in die binnekring beweer ook Prince het meer as R525 000 bestee aan juweliersware en ander geskenke vir minstens drie meisies.

Die kinders gaan tot drie maal per jaar op vakansie en besoek plekke soos Hawaii en Las Vegas, wat sowat R3,7 miljoen beloop, insluitend betalings vir lyfwagte, familielede, chauffeurs en eersteklaskaartjies.

Intussen koop Paris geskenke vir haar vriende en Blanket betaal R2 100 per uur vir karatelesse en nog vir ’n persoonlike afrigter.

Die drie het ook ’n persoonlike sjef wat vir hulle kook by die huis in Calabasas, Kalifornië, wat hulle teen sowat R280 000 per maand huur. Hulle gaan eet ook gereeld by duur restaurante uit.

’n Bron het gesê: “Dié uitgawes betaal hulle meestal self. Hulle kry ook tussen R158 000 en R210 000 sakgeld per maand. Niemand hier rond het sulke geld nie.

“Dit is hoekom die familie so baie onder mekaar baklei. Maar dinge is rustiger noudat hul ooms eindelik vaste werk het en almal los Katherine nou uit oor die geld.”

Maar die bron dring daarop aan al bestee die kinders baie geld, weet hulle wanneer hulle oorboord gaan.

Hulle het bygevoeg: “Hulle bestee nie so baie soos hul pa nie. Hulle is ook meer bewus daarvan wanneer hulle dalk te veel geld bestee.”