07:01am 09/05/2013

’n Prokureur vir Michael Jackson se boedel noem nuwe aantygings van seksuele misbruik teen die ster “verregaande en pateties”.

Die choreograaf Wade Robson was ’n getuie in die oorlede sanger se verhoor vir kindermolestering in 2005 wat volgehou het die Billie Jean-ster het hom nooit onbetaamlik aangeraak nie. Nou het hy ’n geldelike eis vir molestering as kind teen die boedel ingedien.

Maar die prokureur Howard Weitzman meen die bewerings sal nie in die hof steek hou nie. “Mnr. Robson se bewering is verregaande en pateties. Dis ’n jong man wat die afgelope 20 jaar minstens twee keer onder eed getuig het en in talle onderhoude gesê het Michael Jackson het nooit enigiets onbehoorliks aan of saam met hom gedoen nie.

“Nou, amper vier jaar nadat Michael dood is, kom dié betreurenswaardige en ongeloofwaardige bewering.

“Ons is vol vertroue die hof sal dit sien vir wat dit is.”

Volgens Wade se prokureur het die choreograaf, wat al saam met byvoorbeeld Britney Spears en Justin Timberlake gewerk het, besluit om na vore te kom oor sy beproewing van sewe jaar omdat hy verlede jaar onder die spanning “geknak” het.

Henry Gradstein het aan TMZ gesê: “Verlede jaar, op pad na groot hoogtes in sy loopbaan, het [Wade] geknak onder die spanning en seksuele trauma van wat as kind sewe jaar lank met hom gebeur het.

“Hy [Wade] het met die breinspoeling deur ’n seksuele uitbuiter saamgeleef tot hy geknak het onder die las.”

Die prokureur beweer Michael, wat in Junie 2009 aan ’n oordosis Propofol dood is, was ’n “monster” wat Wade gedreig het om hom stil te hou tydens die misbruik wat hy beweer van sewejarige ouderdom af gebeur het.

Die prokureur beweer Michael het vir Wade gesê: “As iemand ooit uitvind wat ons gedoen het, sal ons lewenslank tronk toe gaan.”

Henry het bygevoeg: “Sulke intimidasie van ’n kind deur ’n seksuele oortreder is tragies kenmerkend en doeltreffend om hulle oor die misbruik te laat stilbly – dikwels lewenslank.

“Michael Jackson was ’n monster en in hul hart weet elke normale mens dit.”

Die publiek mag nie insae in die eis teen Michael Jackson se boedel kry nie.