Ron – wat die wyle sanger se loopbaan bestuur het toe Michael in sy fleur was – het ’n plan bedink om die koning van pop te red toe sy probleme in 2006 op hul ergste was en Bahreinse koninklikes hom met dwelms en geld oorlaai het.

Volgens uittreksels uit Ron se nuwe boek, Listen Out Loud, wat die New York Post se Page Six in die hande gekry het, het die vermaakmagnaat ’n deeglike plan saam met Michael se suster La Toya bedink om die Thriller-sanger weg van sy eksotiese toevlugsoord te kry en rehabilitasiesentrum toe te neem.

Hy skryf: “Dis presies wat dit was, ’n ontvoering aan die ander kant van die wêreld”, wat ’n vliegtuig, rehabilitasiesentrum, ’n span en “meer geld behels het as wat ek graag wil erken”.

Ten spyte daarvan dat hulle die plan 10 keer in die tydperk van ’n jaar bespreek het, het La Toya hom op die nippertjie gesmeek om dit te los. “As ek nou daaraan terugdink, was dit waarskynlik beter so . . . soos een van my prokureurs uitgewys het. Daar was min twyfel dat (die gereg) dit as ’n ontvoering sou beskou eerder as ’n poging om ’n kollega te help.”

Die sakeman – wat ook sir Paul McCartney en Madonna se loopbaan bestuur het – is afgedank as Michael se bestuurder deur die ster se pa, Joe Jackson, en het hom daarna eers weer in 2009 gesien. Hy onthou sy laaste ontmoeting met Michael by die Staples-sentrum, enkele dae voor hy weens ’n oordosis propofol dood is.

“Hy het al ’n lang ruk nie gesond gelyk nie, maar dit was op ’n heel ander vlak. Ek het gedink: Hy lyk soos ’n krygsgevangene. Hy het daardie kyk in sy oë gehad . . . ’n uitdrukking van gelatenheid wat gesê het dis verby, en dit het my hart gebreek.”