Michael Jackson kon tot R15 biljoen verdien het as sy This is It-konsertreeks op ’n wêreldtoer uitgeloop het.

So meen die openbare rekenmeester Arthur L. Erk. Hy het aan die jurie gesê die sanger, wat in Junie 2009 op 50 jaar aan ’n oordosis propofol dood is, sou R11 biljoen verdien het as die This Is It-reeks van 50 konserte wat hy in The O2 in Londen sou gehou het, tot ’n wêreldtoer gelei het.

Arthur het dekades se ondervinding met popgroepe soos KISS en sangers soos Britney Spears. Hy meen die bykomende R4 miljoen sou gekom uit duurder kaartjies vir Michael se latere optredes tydens so ’n toer.

Arthur het getuig in die Jackson-familie se hofsaak teen AEG Live. Hulle dagvaar die konsertpromotor daarvoor dat hulle dr. Conrad Murray aangestel het sonder dat hulle sy agtergrond nagegaan het. Conrad is skuldig bevind aan onopsetlike manslag vir sy aandeel aan Michael se dood. Arthur het gesê: “Michael Jackson was in ’n klas van sy eie.

“Hy het as die popkoning bekendgestaan. Niemand kom naby hom nie.

“Die aanvraag was so groot, hy sou waarskynlik meer vir kaartjies kon vra en dit sou nogtans uitverkoop het.”

Arthur se vooruitskattings sluit nie inkomste uit CD’s of liedjies in nie, maar die rekenmeester het geraam Michael sou tot sy aftrede op 65 jaar meer as R1 329 biljoen uitgegee het.

AEG Live se prokureurs hou vol dit was Michael wat Conrad aangestel het en hulle het geen benul gehad hy behandel Michael met propofol nie.