Uri Geller het Michael Jackson gehipnotiseer om hom te vra oor bewerings van kindermishandeling.

Die goëlaar en selfgeproklameerde spiritistiese medium beweer hy het die koning van pop onder hipnose geplaas om vas te stel of hy regtig jong seuns mishandel het - wat die basis gevorm het vir Michael se hofsaak in 2005 - en is seker sy vriend was onskuldig.

Hy het gesê: “Michael is en was heeltemal onskuldig - dit is in die hof bewys. Boonop weet ek hy is onskuldig omdat ek hom gehipnotiseer het en daardie vrae gevra het.”

Uri (67) erken dit spook by hom dat hy Michael en die joernalis Martin Bashir aan mekaar voorgestel het. Martin het ’n omstrede dokumentêr vervaardig waarin Michael Gavin Arvizo (toe 13) se hand vashou.

Die onvleiende onderhoud was een van die voorvalle wat gelei het tot die bewering en gevolglike verhoor; dit het Michael en Martin se vriendskap geknou.

Uri het gesê: “Dit het alles gebeur ná daardie onderhoud van Martin Bashir. Agterna beskou was dit ’n aaklige fout. Martin het my ’n brief gewys wat prinses Diana aan hom geskryf het; ek het gedink omdat Michael dol was oor Diana, is Martin die regte persoon om die onderhoud te doen.

“Die onderhoud sou wonderlik gewees het as Michael nie met ’n 13-jarige seun gesit en hande vashou het en die wêreld vertel dat dit oukei is om hulle oor te nooi en warm melk te gee nie. Dit was nie reg nie.

“Maar die feit dat ek die oorsaak van die dokumentêr is wat sy ondergang beteken het, het die onenigheid tussen ons veroorsaak. Daardie skuldgevoel sal my altyd bybly.”

Uri het ook gepraat oor Michael se tragiese dood in Junie 2009 - aan ’n oordosis propofol - en het beweer hy het die Thriller-ster gewaarsku oor sy afhanklikheid aan voorskrifmedisyne.

Hy het aan Brittanje se HELLO! gesê: “Ek het Michael baie gewaarsku. Ek het op hom gegil en het op die vloer langs sy bed in die hotel geslaap om seker te maak hy skrik soggens wakker en dat daar niemand in die kamer kom nie. Ek het hom gewaarsku hy moet niks neem nie.”