Michael Jackson was ten tyde van sy dood kniediep in die skuld, is vandeesweek getuig.

Die sanger moes jaarliks R300 miljoen rente betaal nadat sy roekelose besteding op weelderige meubels en bisarre kunswerke handuit geruk het en sy toere nie genoeg wins gemaak het om dit te dek nie, het die forensiese rekenmeester William R. Ackerman getuig.

William getuig namens die konsertpromotors AEG Live; die Jackson-familie dagvaar hulle vir Michael se dood. Hy het aan die jurie gesê Michael het gereeld geld uitgegee op reis, skenkings aan liefdadigheid en geskenke en “’n klomp geld bestee aan juweliersware”.

Hy het verduidelik: “Hy het meer bestee as wat hy verdien het. Sy grootste uitgawe was op rente. Hy het ’n ton geld aan rente bestee. Op ’n jaarlike basis het hy $15-20 miljoen (sowat R1,5-R2 biljoen) meer uitgegee as wat hy ingebring het.”

Michael se Neverland Ranch, waar hy van 1988 tot 2005 gewoon het, en sy privaat pretpark het ook ’n las op sy sak geplaas, aangesien dit onderhoudspersoneel nodig gehad het vir die troeteldieretuin en die trein wat op die eiendom gery het.

Banke en kredietmaatskappye het ná 2007 geweier om nog kontantlenings aan die koning van pop te gee, wat beteken het dat betalings op sy ma, Katherine (83), se huislening nie nagekom is nie. William het aan die hof in Los Angeles gesê: “Hy was leeggetap.”

Die Jackson-familie voer aan AEG Live moet die skuld kry vir Michael se dood, want hulle het dr. Conrad Murray aangestel. Hy dien tans vier jaar tronkstraf vir manslag uit nadat hy Michael in 2009 ’n dodelike dosis propofol toegedien en dit sy dood veroorsaak het.