Wyle Michael Jackson se ma het onthul hy was ’n vrygewige en goedhartige mens was wat gereeld honderde dollars aan haweloses gegee het.

Katherine Jackson (83) vertel Michael, wat met sy loopbaan ’n groot fortuin opgebou het, het graag minder gegoedes gehelp en gereeld stilgehou wanneer hy bedelaars op straat gesien het en al die geld in sy beursie aan hulle gegee.

Sy het aan die tydskrif Hello! gesê: “Waarvan ek gehou het van Michael was dat hy so ’n nederige mens was. Ek sê dit nie net omdat hy my seun is nie, maar hy was een van die beste mense. Hy sou iemand op die straathoek sien staan en stilhou en hulle al die geld in sy beursie gee, $300 of $400 en soms meer.”

Katherine dink glo nog elke dag aan haar seun, wat in Junie 2009 aan ’n oordosis propofol dood is in sy huis in Los Angeles, en wens hy was steeds daar om tyd saam met sy familie deur te bring. Veral saam met sy drie kinders, Prince (16), Paris (15) en Blanket (11).

Die ouma, wat saam met haar kleinseun TJ die voogde oor Michael se kinders is, het gesê: “Niks kan my seun vervang nie. Daar gaan nie ’n dag verby dat ek nie aan hom dink nie, nie ’n traan stort nie. Sy lewe is van sy kinders weggeraap – en hy was al wat hulle gehad het. Hy was ’n baie goeie pa, die beste. Hy was ook ’n baie goeie seun.”