Michael Douglas was te kwaad om aan kanker te sterf.

Keelkanker is in 2010 by die Behind the Candelabra-ster gediagnoseer, maar omdat dit toe al in ’n laat stadium was, moes hy intense behandeling kry. Hy sê hy was te kwaad vir sy dokters om toe te laat dat hy sterf.

Michael, wat in 2011 gehoor het hy het die kanker geklop, het aan GQ gesê: “Ek was nie bang om te sterf nie, seker omdat ek te kwaad vir al die dokters was.”

Natuurlik is Michael se dokter afgedank omdat hy die kanker so lank misgekyk het.

Hy het bygevoeg: “Hy het dit nege dekselse maande lank misgekyk! Ek het hom in die pad gesteek. En laat ons maar sê, ek het nie doekies omgedraai nie.”

Die 68-jarige ster se kanker is eers gediagnoseer nadat hy spesialiste in Kanada geraadpleeg het. Hy sê hy was so geskok toe hy hoor hoe sleg sy toestand was, hy het byna uit sy stoel geval.

Michael, wat van sy vrou Catherine Zeta-Jones vervreemd is, het verduidelik: “Sekere oomblikke, soos hierdie, bly by jou. Een van die spesialiste het ’n eenvoudige houtspatula geneem en my tong afgedruk. Ek sal nooit die uitdrukking op sy gesig vergeet nie . . . Twee dae later het hy my gebel en gesê ek het kanker. Wel, ek het toe nie geweet hoe sleg dit was nie of hoe ver gevorderd nie. Tuis in New York het ek hierdie spesifieke chirurg by Sloan-Kettering (kankersentrum) gesien en hy het my vertel dis in stadium vier. Ek het byna van die stoel afgeval. Daar is nie ’n stadium vyf nie, man! Dit was omtrent so groot soos ’n okkerneut.”